Jy is egter soos ’n waterstroom wat sy eie pad loop. Jy sal nie meer die belangrikste wees nie, want jy het by Bilha, my byvrou, geslaap en my diep seergemaak.
Met hulle geheime planne wil ek niks te doen hê nie. Ek wil nie deel van hulle vergaderings en grootpratery wees nie. In hulle verskriklike woede maak hulle mense dood en maak hulle diere moedswillig kreupel.
Dit sal sleg met hulle gaan omdat hulle woede geen perke ken nie, omdat hulle wrede dinge aanvang. Ek sal hulle sonder enige grond tussen die ander stamme laat woon.
Juda is soos ’n jong leeu, hy vernietig sy prooi en keer na sy lêplek terug. Soos ’n leeu krul hy hom in sy blyplek op en niemand sal dit naby sy skuilplek waag nie.
Juda sal nog koning word en sy koningskap sal eeue lank duur. Uit jou sal iemand kom wat regeer. Van oral sal die volke kom om in eerbied voor hom te buig en hom te eer.
Juda sal altyd volop hê. Aan sy wingerde sal die groot, ryp trosse swaar hang. Sy donkies sal sommer van die beste druiwe staan en eet en sy klere sal hy in rooi wyn was.
Daar het egter niks van gekom nie, want hulle boë was te styf en hulle arms te bewerig. Jakob se sterk God het Josef bewaar. Israel se Herder en Beskermer was heeltyd by Josef.
Josef, dit is my God wat jou so help. Dit is die almagtige God wat jou seën sodat dit altyd by jou sal reën, sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees en sodat jou vee en kinders sal vermeerder.
Josef, jy sal die goeie dinge van die lewe ontvang: goeie koringoeste en groen weivelde, ryp gesaaides soos in die ou tyd, mooi en vrugbare heuwels. Mag al hierdie woorde waar word, want Josef is anders as sy broers en hy sal hulle lei.
Jakob het vir oulaas met al die seuns gepraat. “Ek is besig om te sterf,” het hy gesê. “As ek dood is, moet julle my by my mense in die familiegraf by Magpela, net oos van Mamre in die land Kanaän begrawe.