Toe sê die koning vir Joab, die leërowerste, wat by hom was: Trek tog rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Bers,ba, en tel julle die volk, sodat ek die getal van die volk kan weet.
En Joab het aan die koning gesê: Ja, mag die HERE u God by die volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle ook al is, en die oë van my heer die koning dit sien; maar waarom het my heer die koning behae in hierdie saak?
Maar die woord van die koning het die oorhand gehad oor Joab en die leërowerstes, en Joab het met die leërowerstes van die koning af uitgegaan om die volk Israel te tel.
En Joab het die getal van die getelde volk aan die koning gegee; en Israel was agt honderd duisend weerbare manne wat die swaard uittrek, en die manne van Juda vyf honderd duisend man.
Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die HERE gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; HERE, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.
toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my Sender moet bring.
Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.
En die HERE het 'n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Bers,ba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.
Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die HERE berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die HERE was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die HERE gespreek en gesê: Kyk,,k het gesondig, en,k het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.
En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die HERE 'n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou.
Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout.
Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.
Toe het Dawid daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.