In dié tyd het koning Agab van Israel vir sy amptenare gesê: “Weet julle dat Ramot in Gilead eintlik aan ons behoort? Waarom het ons dit nog nie van die koning van die Arameërs teruggevat nie?”
Agab het toe omtrent 400 profete bymekaar laat kom en vir hulle gevra: “Moet ek teen Ramot in Gilead gaan veg of moet ek nie?” Al die profete het gesê: “Trek teen Ramot op, want die Here sal u laat wen.”
“Ja, daar is nog een,” het Agab gesê. “Hy is Miga die seun van Jimla. Ek hou niks van die vent nie, want hy profeteer nooit iets goeds vir my nie. Hy sê altyd net slegte dinge.” “Die koning moenie so praat nie,” het Josafat gesê. “Laat ons na hom luister.”
Almal is toe na ’n dorsvloer net buite Samaria. Albei konings het op hulle troon gesit en albei het hulle koninklike klere aangehad. Al die profete was in profetiese ekstase.
Een van hulle, Sedekia die seun van Kenaäna, het sulke ysterhorings gehad en hy het vir Agab gesê: “Die Here sê u sal soos hierdie ysterhorings die Arameërs verpletter.”
Die amptenaar wat Miga gaan haal het, sê toe vir hom: “Miga, al die ander profete het ’n groot oorwinning vir die koning voorspel. Jy moet tog ook dieselfde sê.”
Hulle het Miga na die koning toe gebring. Agab het vir hom gevra: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg of nie?” “Gaan maar,” het Miga gesê. “Die Here sal Ramot in u hand gee.”
“Goed dan,” het Miga gesê. “Ek sien Israel oral op die heuwels rondloop. Hulle is soos skape sonder ’n herder. Die Here sê dat hulle nie ’n koning het nie. Laat hulle maar in vrede huis toe gaan.”
Toe het die Here gevra: ‘Wie sal Agab gaan mislei sodat hy teen Ramot in Gilead sal optrek om daar doodgemaak te word?’ En die hemelwesens het onder mekaar gepraat.
‘Hoe sal jy dit doen?’ het die Here gevra. ‘Ek sal maak dat al Agab se profete leuens vertel.’ ‘Goed dan,’ het die Here gesê. ‘Gaan mislei hom. En doen dit deeglik.’”
Miga het nog ’n laaste woord vir die koning gesê: “Sien u, alles het toe so gebeur. Die Here het gemaak dat al hierdie profete vir u gelieg het. En dit terwyl die Here u ondergang beplan.”
Sê vir hulle om hom in die tronk te gooi. Sê ook hulle moet hom min brood en net ’n bietjie water gee. Hy moet daar bly totdat ek veilig van Ramot af teruggekom het.”
Maar Miga het gesê: “U Majesteit, as u veilig van Ramot af terugkom, het die Here werklik nie deur my gepraat nie.” Miga het na die skare gekyk en gesê: “Julle moet luister na wat ek vandag vir julle sê.”
Op pad het Agab vir Josafat gesê: “Jy kan maar jou koningsgewaad aanhou, maar ek gaan my vermom voor die geveg begin.” Agab het hom vermom en die geveg om Ramot het begin.
Skielik het die drywers vir Josafat met sy koningsklere gesien en het gemeen dit is Agab. Hulle het op hom afgepyl, maar Josafat het geskree dat hy nie Agab is nie.
Een van die Aramese soldate het heel toevallig ’n pyl in die lug geskiet. Dit het vir Agab getref en deur ’n swak plek in sy harnas gedring. Benoud het Agab vir sy wadrywer gesê: “Ek is gewond. Draai om en kry my vinnig hier weg.”
Die geveg was so hewig dat die drywer hom nie kon wegkry nie. Agab moes die hele dag in die wa bly staan en teen die Arameërs veg. Die wa was naderhand vol bloed en teen die aand is hy dood.
Die son was al amper onder toe Israel se manne beveel is: “Elkeen moet na sy eie dorp en stad teruggaan. Die oorlog is verby, want die koning is dood.”
By die fontein van Samaria waar die straatvroue hulle altyd gewas het, het hulle Agab se bebloede wa afgespoel. Die honde het sy bloed daar opgelek. Dit het presies gebeur soos die Here gesê het.
Alles wat Agab gedoen het, soos die huis met ivoorinlegwerk en al die stede wat hy gebou het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings beskryf.
Hy kon egter nie die hoogtes afgeskaf kry waar die mense ander gode gedien het nie. Die volk het lustig voortgegaan om hulle offers op die hoogtes te slag en wierook daar te verbrand.
Josafat het ook groot skepe gebou om goud in Ofir te gaan haal. Daar het egter niks van gekom nie, want al die skepe is in Esjon-Geber in ’n storm vernietig.
In die sewentiende jaar van koning Josafat van Juda se regering het Ahasia die seun van Agab koning van Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer.