Salomo het twaalf streeksbestuurders vir die hele Israel aangestel. Hulle moes sorg dat elke distrik sy beurt kry om die koning en sy huishouding ’n maand lank te onderhou.
Baäna seun van Agilud vir Taänak, Megiddo en Bet-San wat aan Saretan onderkant Jisreël grens; die hele gebied van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam.
Ben-Geber vir Ramot in Gilead en die dorpies in Gilead wat aan die Jaïr-familie, afstammelinge van Manasse, behoort het; asook die Argob-gebied in Basan, 60 groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons.
Geber seun van Uri vir die Gilead-streek, wat vroeër deur die Amoritiese koning, Sihon en die koning van Basan, Og, regeer is. Vir hierdie hele streek was daar net een bestuurder.
Salomo het oor al die nasies vanaf die groot Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en tot by die Egiptiese grens regeer. Hierdie nasies het almal belasting betaal en was aan Salomo getrou.
Salomo het oor die hele land wes van die Eufraatrivier regeer, vanaf Tifsag by die Eufraat tot so ver wes as Gasa. Al die konings wes van die Eufraat was deel van Salomo se koninkryk. En Salomo het in vrede geleef met al die omliggende volke.
So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad.
Hy was selfs slimmer as Etan die Esragiet, asook Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Al die omliggende lande het van Salomo se wysheid gehoor en hy het al hoe bekender geword.
Hy het gedigte oor bome en plante gemaak en oor alles geskryf, van die seders van die Libanon tot die hisop wat op die mure groei. Oor diere, voëls, reptiele en visse het hy graag gepraat.