Wanneer julle alleen is, moet jy die olie op sy kop uitgooi. Sê dan vir hom: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’ Daarna moet jy die deur oopmaak en maak dat jy so vinnig moontlik wegkom!”
Die bevelvoerders van die leër was juis bymekaar toe hy daar aankom. Hy het gesê: “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal.” Jehu het gevra: “Vir wie van ons is die boodskap?” “Dit is vir ú, Generaal,” het die jongman geantwoord.
Jehu het toe opgestaan en saam met hom die huis ingegaan. Die jongman het die olie op sy kop uitgegooi en gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou om koning te wees oor my volk, Israel.
Jy moet die familie van Agab, vir wie jy gewerk het, uitwis. Dan wreek Ek My so op Isebel vir die moord op my profete en die ander mense wat vir die Here gewerk het.
Die honde sal Isebel se lyk op die plein in Jisreël vreet en niemand sal haar begrawe nie.’” Nadat hy alles gesê het, het die jongman die deur oopgemaak en gevlug.
Jehu het teruggegaan na die ander offisiere toe. Iemand het vir hom gevra: “Wat gaan aan? Wat wou hierdie kranksinnige kêrel by jou hê?” Jehu het geantwoord: “Julle weet tog almal hoe hierdie mense kan onsin praat!”
“Nee, jy lieg! Vertel vir ons wat hy gesê het,” het hulle aangedring. Jehu het toe vir hulle gesê: “Hy het vir my gesê: ‘Die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’”
Hulle het dadelik hulle klere as ’n eerbewys op die trappe voor hom neergesit. Toe laat hulle iemand op die ramshoring blaas en almal het geskree: “Jehu is koning!”
Jehu het toe planne begin beraam om Joram se bewind omver te werp. Joram se magte was by Ramot in Gilead saamgetrek om die stad teen ’n aanval van die Arameërs te beskerm.
Koning Joram self is egter in die gevegte gewond en moes na Jisreël teruggaan om te herstel. Jehu het gesê: “As julle my steun, sorg dan dat niemand hier uit Ramot vlug om die nuus van wat ons doen in Jisreël te gaan vertel nie.”
’n Wag op een van die torings het die klomp mense sien aankom en laat weet: “Hier kom ’n klomp mense aan.” Joram het beveel: “Stuur iemand te perd om te gaan vra of hulle in vrede kom.”
Toe die perderuiter by Jehu-hulle kom, sê hy: “Die koning vra of julle in vrede kom.” Jehu het geantwoord: “Wat praat jy van vrede? Val agter my in!” Die wag het vir Joram laat weet: “Die ruiter het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie!”
Die wag het vir Joram gesê: “Die tweede boodskapper kom ook nie terug nie. En ek dink dit moet Jehu, die seun van Nimsi, wees wat hier aankom, want hy ry soos ’n mal mens!”
Die koning het toe beveel: “Kry vir my ’n strydwa gereed!” Koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda het toe op hulle strydwaens vir Jehu tegemoet gery. Hulle het mekaar op die stuk veld ontmoet wat vroeër aan Nabot behoort het.
Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?” “Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”
Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry:
‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.”
Toe Ahasia sien wat gebeur, het hy weggejaag in die rigting van Bet-Gan. Jehu het agter hom aangejaag en vir sy mense geskree: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur, naby Jiblaim, is hy gewond. Hy kon nog tot by Megiddo wegjaag, waar hy dood is.
Toe skree hy vir hulle: “Gooi haar daar af!” Hulle het haar toe by die venster uitgegooi. Daar het van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat en Jehu het haar nog verder onder die perdehoewe vertrap.
Jehu het toe in die paleis gaan eet en drink. Toe hy versadig was, het hy gesê: “Iemand moet die vervloekte vrou gaan begrawe, want sy was darem ’n koning se dogter.”
Hulle het vir Jehu gaan vertel wat hulle gekry het. Hy sê toe: “Dit is nou presies wat die Here gesê het met Isebel sou gebeur. Elia, die profeet, het gesê: ‘Honde sal op die oop stuk grond in Jisreël Isebel se vleis eet.’