Penuel was die pa van Gedor, en Eser was die pa van Gusa. Hulle was die nageslag van Gur, die oudste seun van Efrata, die voorvader van die mense van Betlehem.
Jabes was belangriker as sy broers. Sy ma het hom Jabes genoem. Sy het gesê: “Ek gee hierdie naam vir hom omdat ek baie pyn gehad het toe hy gebore is.”
Jabes het tot die God van Israel gebid en gesê: “Ek bid dat U my baie sal seën en dat U baie grond vir my sal gee. Ek bid dat U my sal beskerm, sodat dit nie sleg sal gaan met my nie en sodat ek nie sal seerkry nie.” God het alles laat gebeur wat Jabes gevra het.
Meonotai was die pa van Ofra, en Seraja was die pa van Joab. Joab was die voorvader van die mense van Ambagsman-vallei, want die mense daar was ambagsmanne.
Mered en sy Judese vrou was die ouers van Jered, Heber en Jekutiël. Jered was die voorvader van die mense van Gedor, Heber was die voorvader van die mense van Soko, en Jekutiël was die voorvader van die mense van Sanoag. Die ander seuns van Mered was kinders van sy vrou Bitja. Bitja was 'n dogter van die farao.
Naham was die voorvader van die mense van Keïla. Naham se suster was getroud met Hodija, en hulle twee was die voorouers van die mense van Gerem, Estemoa en Maäka.
Sela was die seun van Juda, en Sela se seuns was Er en Lada. Er was die voorvader van die mense van Leka. Lada was die voorvader van die mense van die stad Maresa en van die families wat met linne gewerk het, hulle was van die stad Bet-Asbea.
Sela se ander seuns was Jokim en Koseba, Joas, Saraf en Jasubi-Legem. Die land Moab het aan Saraf behoort. Al hierdie name was in ou lyste van families se name.
Hulle het ook nog al die klein dorpies gehad wat rondom hulle stede was, tot by die stad Baäl. Dit is waar die Simeon-stam gewoon het, en hulle name is geskryf in die naamlys.
en hulle het vrugbare grond en goeie weiveld gekry. Die land was oop na al die kante toe en dit was stil en veilig. Voorheen het mense van die land Gam daar gewoon,
maar in die tyd toe koning Hiskia van Juda regeer het, het hierdie mense van die Simeon-stam daarnatoe gekom, hulle name was geskryf in die naamlys. Hulle het die Gam-mense oorwin en hulle woonplekke gevat. Hulle het ook die Meüniete oorwin wat hulle daar gekry het. Hulle het al die mense doodgemaak en hulle het daar gaan woon in die Meüniete se plek, want daar was weiveld vir hulle skape en bokke.