Die hele Israel is geregistreer. Hulle name is in Die boek van die konings van Israel opgeskryf. Die mense van Juda is na Babel toe weggevoer omdat hulle ongelowig was.
Gewone Israeliete was die eerste inwoners wat ná die ballingskap weer in hulle stede op hulle eie grond gaan bly het. Saam met hulle het van die priesters, Leviete en tempelbediendes gekom.
Verder was daar Adaja seun van Jerogam, seun van Pasgur, seun van Malkija; Masai seun van Adiël, seun van Jagsera, seun van Mesullam, seun van Mesillemot, seun van Immer.
Sallum was die seun van Kore, seun van Abiasaf, seun van Korag. Die mense uit die Koragietefamilie was die drumpelwagte by die tentheiligdom. Dit is dieselfde werk wat hulle voorouers in die woestyn by die ingang tot die kamp van die volk van die Here gedoen het.
Daar is 212 mense as poortwagte gekies. Hulle name is volgens hulle woonplekke in die register neergeskryf. Dawid en Samuel, die siener, het hulle nog in hulle poste aangestel.
Sommige deurwagte was verantwoordelik vir die offergereedskap. Hulle moes die regte hoeveelheid gereedskap voorsien en dit weer ontvang wanneer dit teruggebring is.
Daar was ook musiekleiers, almal hoofde van Levitiese families, wat in kamers by die tempel gebly het. Hulle was vrygestel van ander take, want hulle was voltyds besig met hulle verantwoordelikhede.