Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur.
Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem.
Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het.
Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif.
Voordat 'n jong meisie se beurt aangebreek het om na koning Ahasveros te gaan, moes sy volgens die gebruik van die harem vir twaalf maande 'n skoonheidskuur ondergaan: ses maande lank word hulle met mirre-olie gesalf, en daarna vir ses maande met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf,
Sy het in die aand gegaan en in die oggend teruggekeer na die tweede harem wat onder toesig was van Saäsgas, die eunug van die koning en die oppasser van die vroue. Sy kon nie weer na die koning gaan nie, behalwe as hy van haar gehou het en as sy op die naam geroep is.
Toe die voorbereidingstyd voltooi is van Ester, die dogter van Abigajil, Mordegai se vader se broer, wat haar as sy dogter aangeneem het, om na die koning in te gaan, het sy niks van die hand gewys van die dinge wat die eunug, Hegai, die oppasser van die vroue, vir haar aanbeveel het nie. Ester het die bewondering geniet van almal wat haar gesien het.
Die koning het Ester liefgehad, meer as al die vroue. Sy het voor hom guns en welwillendheid geniet, meer as al die maagde. Hy het toe die hooftooisel op haar kop gesit, en haar koningin gemaak in Vasti se plek.
Die koning het 'n groot feesmaal gehou vir al sy •hoë amptenare en dienaars – 'n feesmaal ter ere van Ester. Hy het geskenke uitgedeel soos daar van 'n koning verwag word.
Ester het nie haar afkoms en haar volksverband bekend gemaak nie, soos Mordegai haar beveel het. Sy het Mordegai se bevel gehoorsaam soos toe sy nog in sy sorg was.
In daardie tyd, terwyl Mordegai in die paleispoort gesit het, het Bigtan en Teres, twee van die koning se paleisamptenare, die deurwagters, hulle bloedig vererg en was toe daarop uit om koning Ahasveros te vermoor.
Toe die saak ondersoek en as waar bevind is, is die twee paleisamptenare aan 'n houtpaal gehang. Dit alles is in die boekrol met die kronieke opgeskryf in die teenwoordigheid van die koning.