|
| 1 |
|
| 'n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! |
|
| 2 |
|
| Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! |
|
| 3 |
|
| Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, |
|
| 4 |
|
| wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, |
|
| 5 |
|
| wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos die van 'n arend. |
|
| 6 |
|
| Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. |
|
| 7 |
|
| Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. |
|
| 8 |
|
| Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. |
|
| 9 |
|
| Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. |
|
| 10 |
|
| Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. |
|
| 11 |
|
| Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. |
|
| 12 |
|
| So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. |
|
| 13 |
|
| Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. |
|
| 14 |
|
| Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. |
|
| 15 |
|
| Die mens -- soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. |
|
| 16 |
|
| As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. |
|
| 17 |
|
| Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, |
|
| 18 |
|
| vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om die te doen. |
|
| 19 |
|
| Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. |
|
| 20 |
|
| Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! |
|
| 21 |
|
| Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! |
|
| 22 |
|
| Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel! |
|
|
|
|