Daarna het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi.
Die asem wat uit u neus kom, is soos 'n sterk wind. Dit het die water gekeer, en die water het hoog gestaan soos 'n muur, die diep water in die middel van die see het stil geword.
Die vyande het gesê: ‘Ons sal die Israeliete volg en jaag en ons sal hulle vang. Ons sal hulle goed vat en ons sal dit tussen ons verdeel. Ons sal alles kry wat ons wil hê. Ons sal ons swaarde uithaal en ons sal hulle doodmaak.’
Here, wie is soos U? Nie een van die gode nie. Wie kan doen wat U kan doen? Wie is so heilig soos U? Niemand nie. Almal eer U en sing van die wonderlike dinge wat U doen.
Hulle het geskrik en hulle was baie bang. Hulle het stil gaan staan soos 'n dooie klip toe hulle hoor hoe sterk U is. Here, in daardie tyd het ons, die volk wat aan u behoort, hier deur die water gegaan.
U het ons gebring en U het ons laat woon op die berg wat aan U behoort. Dit is die plek wat U reggemaak het vir u troon, u gewyde plek wat U self reggemaak het met u hande.
Ja, toe die farao se perde en oorlogkarre en die manne daarop in die see ingegaan het, het die Here die see se water laat terugkom oor hulle, maar die Israeliete het op die grond deur die see gegaan.
Moses se suster, Mirjam, was 'n profeet. Sy het 'n tamboeryn in haar hand geneem. Al die vroue het ook tamboeryne geneem en hulle het haar gevolg. Hulle het gedans.
Moses en die Israeliete het weggegaan van die Riet-see. Hulle het in die Sur-woestyn gekom. Hulle het drie dae lank geloop, verder in die woestyn in, en hulle het nie water gekry nie.
Moses het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit op die water gegooi, en die water het soet geword. Die Here wou kyk of die Israeliete gehoorsaam sal bly aan Hom. Hy het vir hulle wette gegee
en gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek sê. Ek is julle God die Here. Julle moet doen wat Ek wil hê. Julle moet gehoorsaam wees aan my wette. Dan sal Ek julle nie siek maak soos Ek die Egiptenaars siek gemaak het nie, want Ek is die Here wat julle gesond maak.”