Jetro, priester van Midian, en die skoonvader van Moses, het alles gehoor wat God vir Moses en vir sy volk Israel gedoen het – hoe die Here Israel uit Egipte uitgelei het.
Moses het sy skoonvader alles vertel wat die Here aan die farao en aan die Egiptenare gedoen het ter wille van Israel, en van al die moeilikhede wat hulle op pad ondervind het, en hoe die Here hulle uitgered het.
Jetro het gesê: “Die Here moet geprys word, Hy wat julle gered het uit die hand van die Egiptenare en van die farao, en wat die volk onder die hand van die Egiptenare uit gered het.
Jetro, Moses se skoonvader, het toe 'n •brandoffer en slagoffers geneem om voor God te bring. Aäron en al die oudstes van Israel het gekom om in die teenwoordigheid van God 'n maaltyd te eet saam met Moses se skoonvader.
Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?”
Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat 'n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien.
Hulle moet te alle tye die volk se regsake behartig. Elke groot saak moet hulle na jou bring, maar oor elke klein saak moet hulle self beslis. Maak dit ligter vir jouself, en laat hulle saam met jou die las dra.
Moses het onder die hele Israel bekwame manne uitgesoek, en hulle as hoofde oor die volk aangestel, as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien.