[4-5] Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders.
Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie.
Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit.
“Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.”
Die volk het baie bang geword toe hulle die donderweer hoor en die blitse sien. Hulle het gebewe toe hulle sien hoe vol rook die berg is en hoor hoe hard die trompet blaas. Hulle het gebewe, so bang was hulle. Hulle het gesorg dat hulle op ’n afstand bly staan.
“Julle moenie bang wees nie,” sê Moses toe vir hulle, “God het kom kyk of julle versigtig genoeg vir Hom is sodat julle nie teen Hom sal sonde doen nie.”
“Bou vir My ’n offerplek van grond op elke plek wat Ek vir julle wys waar Ek wil hê julle tot My moet bid. Bring vir My op daardie altaar die diere wat julle as brandoffers en dankoffers uit julle kleinvee en julle beeste offer. Ek sal na daardie plek kom en Ek sal julle lewe goed maak.
As jy die offerplek van klip wil bou, moet dit nie van klip wees wat julle gekap het nie. Klip wat met gereedskap bewerk is, is nie aanvaarbaar vir my altare nie.
My altare mag ook nie trappies hê waarmee ’n mens boontoe opklim nie. ’n Mens moenie van onder af onder die een wat opklim om die offer te bring se klere kan inkyk nie.”