Van vals beskuldigings moet jy wegbly. Die onskuldige en regverdige moet jy nie om die lewe bring nie, want Ek sal 'n skuldige nie regverdig verklaar nie.
maar die sewende jaar moet jy dit onbewerk en braak laat lê, sodat die behoeftiges onder jou volk kan eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Jy moet dieselfde doen met jou wingerde en jou olyfboorde.
Ses dae lank moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy ophou werk, sodat jou beeste en jou donkies kan rus, en jou slavinne se seuns en die vreemdelinge kan asemskep.
Die Fees van die Ongesuurde Brood moet jy onderhou. Soos Ek jou beveel het, moet jy op die vasgestelde tyd in die maand Abib sewe dae lank ongesuurde brood eet; want in daardie maand het jy uit Egipte weggetrek. Niemand mag met leë hande voor My verskyn nie.
Onderhou ook die Fees van die Oes met die eerste vrugte van jou arbeid, met dit wat jy in die land gesaai het. Onderhou ook die Fees van die Insameling aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid op die lande insamel.
Jy mag die bloed van my slagoffers nie offer saam met iets wat suurdeeg bevat nie. Die vet van die •feesoffer aan My mag nie tot die oggend oorstaan nie.
Wees versigtig, omdat hy teenwoordig is, en luister na sy stem. Moenie teen hom opstandig wees nie, want hy sal julle oortreding nie vergewe nie; hy tree immers in my Naam op.
“ Wanneer my engel voor jou uit gaan en jou neem na die •Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete, sal Ek hulle uitwis.
Jy mag nie voor hulle gode in aanbidding buig nie en jy mag hulle nie dien nie. Jy mag hulle dade nie nadoen nie, maar jy moet hulle godebeelde heeltemal vernietig en hulle gedenkstene in stukke breek.
“Die vrees vir My sal Ek voor jou uit stuur en Ek sal elke volk by wie jy kom, in verwarring bring. Ek sal sorg dat al jou vyande die hakskene vir jou wys.
Ek sal jou grense vasstel vanaf die Rietsee tot by die See van die Filistyne, en vanaf die woestyn tot by die Rivier, want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdryf.