“Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel om My as priesters te dien.
Jy moet al die knap manne vir wie Ek met vakmanskap bedeel het, aansê om vir Aäron klere te maak sodat hy gewy kan word om 'n priester in my diens te wees.
Hulle moet die volgende kledingstukke maak: 'n borssak, 'n skouerkleed, 'n mantel, geweefde priesterklere, 'n tulband en 'n serp. Dit is die gewyde klere wat vir jou broer Aäron en sy seuns gemaak moet word sodat hulle priesters kan wees in my diens.
Jy moet 'n bekwame vakman wat graveerwerk op seëlringe kan doen, aansê om die name van die seuns van Israel op die twee stene te graveer, en monteer dit in goud.
“Werk die twee stene vas op die skouerbande van die skouerkleed dat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. So sal Aäron hulle name op sy twee skouers dra voor My, die Here, om My aan hulle te herinner.
“Maak 'n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.
Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op 'n seëlring.
Dan moet jy twee ander goue ringe maak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vassit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel.
Die ringe van die borssak moet met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak word, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie.
Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner.
Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn.
Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.
Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is.
Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van ontmoeting ingaan of as hulle na die altaar toe kom om diens in die heiligdom te doen, want anders sal hulle 'n oortreding begaan en sterf. Dit is 'n vaste voorskrif vir hulle en ook vir dié wat ná hulle kom.”