Moses het ook gesê: “Die Here het vir Besaleël en Oholiab en al die ander ambagsmanne wysheid en verstand gegee sodat hulle al die werk by die tempel kan doen. Hulle moet dit doen soos die Here gesê het.”
Moses het vir Besaleël en Oholiab geroep, en ook al die ander ambagsmanne vir wie die Here vaardig gemaak het, elkeen wat wou help om te werk. Moses het hulle geroep om nader te kom om die werk te kom doen.
Moses het vir hulle al die presente gegee wat die Israeliete gebring het vir die werk by die tempel. Die Israeliete het elke oggend nog presente na Moses toe gebring.
Al die goeie ambagsmanne het die tempel-tent begin maak. Hulle het tien stukke materiaal geneem. Dit was goeie linne-materiaal en blou, pers en rooi wol-materiaal. Hulle het gerubs op die materiaal geborduur.
Hulle het blou lissies gemaak van wol-materiaal en hulle het dit vasgewerk aan die een kant van die materiaal. Hulle het dieselfde gedoen met die ander stuk materiaal.
Hulle het ook 50 goue hakies vasgewerk aan elke stuk materiaal sodat die hakies in die lissies kon haak, en sodat die stukke materiaal van die tempel-tent vas aan mekaar kon wees.
Toe het hulle 'n seil gemaak van bokhaar-materiaal. Hulle moes die seil bo-oor die tempel-tent sit. Hulle het die seil van elf stukke bokhaar-materiaal gemaak.
Hulle het 50 lissies vasgewerk aan die kant van die een stuk materiaal en hulle het ook 50 lissies vasgewerk aan die kant van die ander stuk materiaal.
Hulle het nog 'n seil vir die tent gemaak van skaapvelle wat hulle rooi gekleur het. Hulle het ook 'n seil gemaak van velle wat hulle sag gemaak het. Hulle het dit bo-oor die rooi seil gesit.
Elke raam het twee houtpenne en twee gate gehad. Hulle het die houtpenne in die gate gesit sodat hulle die pale styf aan mekaar kon vasmaak. Hulle het al die rame van die tempel-tent so vasgemaak.
[23-26] Hulle het 20 rame vir die suidekant en 20 vir die noordekant van die tempel-tent gemaak. Hulle het ook 40 silwer voetstukke gemaak vir elke kant. Hulle het die voetstukke onder die rame gesit, twee voetstukke onder elke raam waar die twee houtpenne is.
[31-32] Hulle het dwarspale gemaak van doringhout, vyf dwarspale vir die rame aan elke kant van die tempel-tent en ook vyf dwarspale vir die rame aan die agterkant van die tempel-tent, die westekant.
Hulle het die rame oorgetrek met goud. Hulle het ook goue ringe gemaak en hulle het die dwarspale deur die ringe gesteek. Hulle het die dwarspale oorgetrek met goud.
Hulle het vier pale van doringhout gemaak en hulle het dit oorgetrek met goud. Hulle het goue hake daaraan vasgesit en vier silwer voetstukke daarvoor gemaak.
Hulle het 'n gordyn gemaak vir die ingang van die tent. Hulle het dit gemaak van blou, pers en rooi wol-materiaal en van goeie linne-materiaal. Hulle het daarop geborduur.
Hulle het die gordyn opgehang aan vyf pale met hake. Hulle het die bo-punte van die pale oorgetrek met goud, en ook die dwarspale. Hulle het die vyf voetstukke van brons gemaak.