Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal opkom en in jou huis kom, in jou slaapkamer en op jou bed; in die huise van jou amptenare en by jou mense; in jou bakoonde en jou knieskottels.
Die Here sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron, ‘Strek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die kanale en oor die vleilande, en laat die paddas opkom oor Egipteland.’ ”
Toe ontbied die farao vir Moses en Aäron en sê: “Pleit by die Here dat Hy die paddas van my en my mense wegneem, dan sal Ek die volk laat gaan, sodat hulle aan die Here kan offer.”
Moses sê toe vir die farao: “Dit is u voorreg om te besluit. Wanneer moet ek vir u, u amptenare en u mense pleit, om die paddas uit te roei by u en uit u huise, dat hulle net in die Nyl oorbly?”
Moses en Aäron het van die farao af weggegaan, en Moses het na die Here om hulp geroep oor die probleem van die paddas wat Hy vir die farao beskik het.
Hulle het toe so gemaak. Aäron het sy hand met sy staf uitgestrek, die stof op die grond geslaan, en daar was muggies op mens en dier. Al die stof van die land het muggies geword in die hele Egipteland.
Die waarsêerpriesters het dit ook probeer doen – met hulle towerkuns muggies probeer voortbring – maar hulle kon nie. Daar was muggies op mens en dier.
Toe sê die waarsêerpriesters vir die farao: “Dit is die vinger van God! ” Maar die farao se hart was verhard en hy wou nie na hulle luister nie, soos die Here gesê het.
Die Here het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Sê vir hom, ‘So sê die Here: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.
Want as jy my volk nie laat gaan nie – kyk, Ek gaan op jou en jou amptenare en jou mense en in jou huise steekvlieë loslaat. Die huise van die Egiptenare sal vol steekvlieë wees, selfs op die grond waarop hulle staan.
Maar op daardie dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek, waar my volk 'n staanplek het. Daar sal nie steekvlieë wees nie, sodat jy kan weet dat Ek, die Here, hier in die land is.
Die Here het dit toe so gedoen. Digte swerms steekvlieë het die paleis van die farao en die huise van sy amptenare binnegedring. In die hele Egipteland het die land skade gely as gevolg van die steekvlieë.
Maar Moses het geantwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want dit is afstootlik vir die Egiptenare wanneer ons vir die Here ons God offer. As ons dit wat afstootlik is vir die Egiptenare voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie?
Daarop het die farao gesê: “Ek sal julle laat gaan, dat julle vir die Here julle God in die woestyn kan offer. Julle mag net nie te ver weggaan nie. En pleit vir my! ”
Moses het toe gesê: “Kyk, wanneer ek van u af weggaan, sal ek by die Here pleit dat die steekvlieë môre van die farao, sy amptenare en van sy volk af padgee. Mag dit net nie so wees dat die farao weer die spot dryf deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie.”
Die Here het toe volgens Moses se versoek opgetree: Die steekvlieë het van die farao, sy amptenare, en van sy volk af padgegee. Daar het nie een oorgebly nie.