Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao en sê vir hom: ‘So sê die Here, die God van die Hebreërs, “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.”
kyk, die hand van die Here is teen jou vee wat in die veld is. Onder die perde, die donkies, die kamele, die beeste en die kleinvee sal daar 'n baie swaar pessiekte uitbreek.
Maar die Here sal onderskeid tref tussen die vee van Israel en die vee van Egipte, sodat niks van alles wat aan die Israeliete behoort, sal doodgaan nie.
Die Here het dit toe die volgende dag gedoen. Al die vee van die Egiptenare het gevrek, maar van die vee van die Israeliete het daar nie een gevrek nie.
Die farao het mense gestuur, en sowaar, van die vee van Israel was nie eers een dood nie. Maar die hart van die farao was onversetlik, en hy het die volk nie laat gaan nie.
Hulle het toe roet uit 'n oond geneem en voor die farao gaan staan. Moses het dit in die lug opgegooi, en dit het swere geword wat op mens en dier in oop sere uitgebars het.
Die Here het vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en meld jou aan by die farao. Sê vir hom, ‘So sê die Here, die God van die Hebreërs: “Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.
Want hierdie keer gaan Ek jou met al my plae in die hart tref, ook jou amptenare en jou mense, sodat jy sal weet dat daar op die hele aarde niemand soos Ek is nie.
Kyk, môre teen hierdie tyd gaan Ek baie swaar hael laat neerreën, soos wat daar nog nooit in Egipte was nie, van die dag dat dit gevestig is tot nou toe.
Stuur dan nou mense, en bring jou vee en alles in die veld wat aan jou behoort, na veiligheid. Elke mens en dier wat hom in die veld bevind en nie na veiligheid gebring is nie – op hulle sal die hael val en hulle sal sterf.” ’ ”
Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar hael sal val in die hele Egipteland, op mens en dier en op al die plante in die veld in Egipteland.”
Moses het toe sy staf na die hemel uitgesteek, en die Here het donderslae en hael beskik, terwyl weerligstrale op die grond neerslaan. Die Here het hael op Egipteland laat neerreën.
Daar was hael, en tussen die hael deur het weerligstrale aanhoudend geblits. Dit was 'n baie swaar haelbui, soos wat daar nog nooit in Egipteland was vandat hulle 'n nasie geword het nie.
Die hael het die hele Egipteland getref, alles wat in die veld was, mens en dier. Al die plante in die veld is deur die hael platgeslaan, elke boom in die veld is stukkend geslaan.
Moses het vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad is, sal ek my hande na die Here uitstrek. Die donderslae sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie, sodat u kan weet dat die aarde aan die Here behoort.
Moses het van die farao af uit die stad gegaan en sy hande na die Here uitgestrek. Die donderslae en hael het opgehou en die reën het nie meer op die aarde neergegiet nie.