Net soos ’n sterk skuilplek iemand teen die wind en die storms beskerm, sal hulle die volk beskerm. Hulle sal vir die volk soos ’n stroom koue water in ’n droë land wees en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n kaal, onherbergsame land.
Selfs dié wat ongeduldig en oorhaastig was, sal rustig oor ’n saak dink en gesonde oordeel aan die dag lê. Dié wat onseker was van hulleself en stamelend hulle saak probeer stel het, sal vol vertroue praat en hulle punt maak.
Almal sal die goddelose dwase herken vir wat hulle is en aan die gek goed wat hulle doen. Hulle beledig die Here en gee nie om dat mense honger ly en dors is nie.
Die skelmstreke van die skurk sal aan die lig kom. Hy is altyd met iets onderduims aan die gang en maak planne om deur leuens en bedrog die arm mense aan die kortste ent te laat trek.
Op die oomblik kan julle wel selfversekerd aangaan asof niks julle ooit kan pla nie, maar oor ’n bietjie meer as ’n jaar sal julle beslis bekommerd raak, want daar sal nie druiwe wees om te oes of vrugte om te pluk nie.
Tot nou toe het julle gemaklik en sorgvry geleef, maar nou het die tyd aangebreek vir julle om te bewe van vrees. Trek uit julle mooi klere en trek vir julle rouklere aan.
Treur oor my volk se grond wat deur die dorings en onkruid toegegroei word en oor die huise waarin daar soveel vrolikheid was en oor die vrolike stad waarin daar uitbundig feesgevier is.
Selfs die paleis is verlate en die stad wat altyd so besig was, is leeg. Waar die wagtoring op die heuwel was, sal dit vir altyd ’n veld wees waar die wildedonkies loop en vreet en die veetroppe wei.
Dit sal so bly totdat die Gees van die hemel af op ons uitgestort word. Dan word die wildernis soos ’n vrugteboord en die vrugteboord word so dig dat dit vir ’n bos aangesien word.
Maar God sal sy mense seën. Waar julle saai, sal die oeste geil groei van die baie water. En julle donkies en vee sal los kan loop om op die groen weivelde te wei.