|
| 1 |
|
| Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. |
|
| 2 |
|
| My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. |
|
| 3 |
|
| Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my. |
|
| 4 |
|
| Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek. |
|
| 5 |
|
| Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite. |
|
| 6 |
|
| Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. |
|
| 7 |
|
| Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. |
|
| 8 |
|
| Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord. |
|
| 9 |
|
| Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak. |
|
| 10 |
|
| Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. |
|
| 11 |
|
| Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak. |
|
| 12 |
|
| Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel. |
|
| 13 |
|
| He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan. |
|
| 14 |
|
| Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag. |
|
| 15 |
|
| Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink. |
|
| 16 |
|
| Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk. |
|
| 17 |
|
| En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet. |
|
| 18 |
|
| Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE. |
|
| 19 |
|
| Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif. |
|
| 20 |
|
| As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. |
|
| 21 |
|
| Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: |
|
| 22 |
|
| Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; |
|
| 23 |
|
| hulle is elke môre nuut; u trou is groot. |
|
| 24 |
|
| Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. |
|
| 25 |
|
| Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. |
|
| 26 |
|
| Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. |
|
| 27 |
|
| Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. |
|
| 28 |
|
| Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. |
|
| 29 |
|
| Laat hy sy mond in die stof steek -- miskien is daar hoop! |
|
| 30 |
|
| Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad. |
|
| 31 |
|
| Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. |
|
| 32 |
|
| Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; |
|
| 33 |
|
| want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. |
|
| 34 |
|
| Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap, |
|
| 35 |
|
| dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, |
|
| 36 |
|
| dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak -- het die HERE dit nie gesien nie? |
|
| 37 |
|
| Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? |
|
| 38 |
|
| Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie? |
|
| 39 |
|
| Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes. |
|
| 40 |
|
| Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer; |
|
| 41 |
|
| laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: |
|
| 42 |
|
| Ons het oortree en ons was wederstrewig -- U het nie vergewe nie. |
|
| 43 |
|
| Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning. |
|
| 44 |
|
| U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie; |
|
| 45 |
|
| U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak. |
|
| 46 |
|
| Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek; |
|
| 47 |
|
| skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking. |
|
| 48 |
|
| My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk. |
|
| 49 |
|
| Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou, |
|
| 50 |
|
| totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou. |
|
| 51 |
|
| My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad. |
|
| 52 |
|
| Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is; |
|
| 53 |
|
| hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi. |
|
| 54 |
|
| Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my! |
|
| 55 |
|
| Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil. |
|
| 56 |
|
| U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. |
|
| 57 |
|
| U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! |
|
| 58 |
|
| Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe. |
|
| 59 |
|
| U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg. |
|
| 60 |
|
| U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my. |
|
| 61 |
|
| Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my, |
|
| 62 |
|
| die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my. |
|
| 63 |
|
| Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied. |
|
| 64 |
|
| Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE. |
|
| 65 |
|
| U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle. |
|
| 66 |
|
| U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit. |
|
|
|
|