Op die 28ste April 573 v.C. het die Here Homself op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Ons was toe al 25 jaar lank gevangenes in ’n vreemde land. Dit was veertien jaar nadat Jerusalem deur ons vyande met die grond platgevee is.
Die Here het aan my verskyn. Hy het my toe na Israel toe gevat. Ek het gesien hoe Hy my op ’n baie hoë berg neersit. Van daar af kon ek ’n stad sien wat ’n ent daarvandaan was, so na die suidekant toe.
Soos Hy my nader gebring het, het ek ’n man gesien wat langs ’n ingangshek na die stad toe gestaan het. Wanneer die lig daarop skyn, het hierdie man se gesig geblink asof dit van brons gemaak is. Hy het ’n liniaal en ’n tou in sy hande gehad.
Hierdie man sê toe vir my: “Mens, jy moet baie mooi kyk na wat nou voor jou oë gaan afspeel. En jy moet mooi luister. Jy is hiernatoe gebring sodat ek jou ’n hele klomp dinge kan wys. Dan moet jy teruggaan na Israel en hulle presies gaan vertel wat jy alles gesien het.”
Ek sien toe ’n muur wat reg rondom die huis van die Here gebou is. Die man het sy liniaal gevat. Die liniaal was drie meter lank. Hy meet toe die muur om die huis van die Here met sy liniaal. Die muur was presies drie meter lank en ook drie meter dik.
Toe het die man na die hek aan die oostekant van die huis van die Here gegaan. Hy het met die trap opgeklim en toe meet hy die drumpel. Dit was ook drie meter breed.
Binne-in die poort was daar plek waar die wagte kon sit, aan weerskante van die ingang. Elke vertrek waar die wagte gesit het, was drie meter by drie meter groot. Die muur tussen die twee vertrekke was twee en ’n half meter dik. Aan die binnekant was daar ’n opening waardeur ’n mens in die huis van die Here kon ingaan. Die begin van die portaal was ook drie meter wyd.
Daarna het hierdie man ook die opening gemeet waardeur ’n mens ingaan na die huis van die Here se terrein. Dit was vier meter by vier meter, en die muur was ’n meter dik.
Die man het toe ook hierdie opening gemeet. As die hek oop was, was die ingang vyf meter breed. Die volle lengte van die opening was ses en ’n half meter wyd met die hek toe.
Toe het die man ook die wydte van die hele gebou gemeet waardeur ’n mens gaan as jy in die huis van die Here se terrein wil kom. Dit was van die kamers aan die een kant tot by die kamers aan die ander kant. Die afstand was twaalf en ’n half meter. Die kamers se ingange was regoor mekaar.
Die man het toe ook die opening gemeet waardeur ’n mens gaan. Die afstand van die opening tot agter die gebou waardeur ’n mens moet gaan, was 30 meter.
Agter in die kamers was daar vensters gebou wat met houthortjies toegemaak het. In die opening was daar ook vensters. Teen die mure van al hierdie vertrekke het mense prente van palmbome geteken.
Toe vat die man my na die buitenste opening waardeur ’n mens gaan. Rondom hierdie opening was daar ook vertrekke. Die vloer was van plaveiselstene. Daar was 30 vertrekke.
Die plaveiselstene was aan weerskante van die opening, en hulle was net so breed as wat hulle lank was. Hierdie plaveiselstene was aan die onderkant van die vertrek.
Die man het toe die afstand gemeet van die voorkant van die eerste opening en die voorkant van die ingang. Dit was 50 meter aan die een kant en 50 meter aan die ander kant.
Hierdie ingang het drie kamers aan elke kant gehad. Die afmetings was dieselfde as die afmetings van die ander kamers. Hierdie ingang was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
Sy vensters en ingang en die tekeninge van palmbome het nes dié gelyk van die ander ingang. ’n Mens moes ses trappe klim om hierdie ingang te bereik. Agter was nog ’n ingangsportaal.
Daar was ook ’n gebou regoor die binneste ingang, teenoor die ingang aan die noordekant. Dit het net so gelyk soos die ingang aan die oostekant. Die man het toe die afstand tussen die twee ingange gemeet. Dit was 50 meter.
Daarna vat die man my na die suidekant toe. Hier was ook ’n ingang met net sulke geboue as by die ander twee ingange. Die man het hulle ook gemeet, en dit was presies dieselfde as die ander geboue.
Daar was ook sewe trappe wat jy moet opklim om by die ingang te kom. En agter was ook ’n ingangsportaal. Teen die mure was daar ook prente van palmbome.
Aan die suidekant was daar ook ’n ingang met ’n gebou teen die huis van die Here se kant. Die man het die afstand tussen die buitenste ingang en die binneste ingang gemeet. Dit was 50 meter.
Daarna het hy my na die binneste ingang van die suidelike toegang geneem. Hy het hierdie opening gemeet. Dit was dieselfde as die ander ingange tot die huis van die Here se terrein.
Ook die kamers aan die kante en die ingangsportaal was presies net so groot soos die ander ingange tot die huis van die Here se kamers en portale. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters in gehad, en dit was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
Die ingang het ook ’n ingangsportaal na die buitekant gehad. Daar was tekeninge van palmbome teen die mure. En daar was agt trappe wat jy moes opklim om by die ingang uit te kom.
Die kamers en die mure en die ingangsportaal was ook net so groot soos in die ander ingange. Die gebou en die ingangsportaal het ook vensters gehad. Dit was ook 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.
Die gebou het ook ’n ingangsportaal na die buitekant toe gehad. Teen die mure was daar tekeninge van palmbome. ’n Mens moes agt trappe klim om by die ingang te kom.
In die ingangsportaal was daar twee tafels aan weerskante teen die muur. Hierop is die diere geslag wat verbrand word sodat die Here mense se slegte dade kan vergewe.
Buite die ingangsportaal was kamers waar die mense kon bly wat in die huis van die Here musiek gemaak het. Die vertrekke was by die ingang aan die noordekant en het suid gekyk. Teen die ingang aan die oostekant was daar ook ’n kamer, wat noord gekyk het.
[45-46] Die man het toe vir my verduidelik: Die vertrek wat suid kyk, is daar sodat die mense wat in die huis van die Here werk, daarin kan bly. Dis net bedoel vir mense wat in die huis van die Here werk. Slegs hulle wat kleinkinders van Levi is, mag in die huis van die Here werk.
Die man het toe die voorste deel van die huis van die Here gemeet. Dié vertrek was 50 meter by 50 meter. Die altaar waarop die offers gebring is, was voor die huis van die Here.
Die ingang tot die voorste deel was tien meter lank en ses meter breed. ’n Mens kon die ingang bereik deur tien trappe te klim. Aan weerskante van die ingang was daar ’n pilaar teen elke muur.