Julle mag die vleis eet op die dag wanneer julle die dier slag en julle mag dit ook die volgende dag eet. Maar as daar vleis oorbly tot die derde dag, dan moet julle dit verbrand.
Ek sal die persoon straf wat dit gedoen het, hy sal skuldig wees, want hy het iets ontwy wat aan die Here gewy is. Julle moet daardie persoon afsny van sy volk.
“Wanneer julle koring of gars afsny, dan moet julle nie alles tot by die kant van die land afsny nie, en julle moenie die koring-are of gars-are optel wat val nie.
En wanneer jy druiwe pluk, dan mag jy nie 'n tweede maal deur jou wingerd gaan om nog druiwe te pluk nie. Jy mag ook nie die druiwetrosse optel wat val nie. Jy moet hulle los vir arm mense en vir vreemdelinge.
“Jy mag nie jou naaste verdruk en sy goed vir jouself vat nie. Jy moet elke dag die dagloner se beloning vir hom gee, jy moenie wag tot die volgende dag nie.
“Jy moenie verkeerd oordeel nie. Wanneer iemand skuldig is, dan mag jy nie sê hy is onskuldig nie, dit maak nie saak of hy 'n arm mens of 'n ryk mens is nie. Jy moet regverdig wees wanneer jy oordeel.
“Jy moenie dieselfde slegte ding aan 'n ander Israeliet wil doen wat hy aan jou gedoen het nie, jy moenie vir hom kwaad bly nie. Jy moet vir jou naaste so lief wees soos jy lief is vir jouself. Ek is die Here.
“Julle moet aanhou om te doen wat Ek vir julle sê. Julle mag nie verskillende soorte diere laat paar en kleintjies kry nie. Julle mag nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie, julle mag nie klere dra wat julle gemaak het van verskillende soorte materiaal nie.
“'n Man het miskien seks met 'n vrou wat 'n slavin is, en haar eienaar het belowe dat 'n ander man haar mag kry. As die ander man haar nog nie losgekoop het nie, en haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie, dan moet die man wat seks gehad het met haar, boete betaal aan die eienaar. Hulle mag nie die man en die vrou doodmaak nie, want haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie.
Die man moet 'n skuld-offer vir die Here bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die skuld-offer moet 'n skaap-ram wees.
“Jy moenie jou dogter 'n prostituut laat word nie, want dan sal julle haar ontwy. Dan sal ander mense in die land ook prostitute word, en die land sal vol word van mense wat hierdie slegte ding doen.
“Julle mag nie vir geeste van dooie mense of vir waarsêers vra wat julle wil weet nie. As julle dit doen, dan sal julle onrein word. Ek is julle God die Here.
Die vreemdeling moet vir julle wees soos 'n Israeliet, jy moet lief wees vir hom soos jy lief is vir jouself, want julle was ook vreemdelinge in die land Egipte. Ek is julle God die Here.
Julle moet weegskale en gewigte gebruik wat reg weeg, en die efa of hin wat julle gebruik, moet reg wees. Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het.