vir die Israeliete gesê: “As ’n persoon iemand anders aan die Here beloof het en hy wil sy gelofte nakom, maar hy wil eerder geld vir die Here gee as die persoon self,
moet dit soos volg bereken word: vir ’n manspersoon tussen twintig en 60 jaar oud moet hy 50 stukke geld gee. Dit is volgens die bepaling van die dienaars by die tent hoeveel elke stuk werd is.
“As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.”
Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort.
As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word
“Wanneer iemand belowe het om sy huis vir die Here te gee, moet die dienaar van die tent af kom en die afkoopwaarde kom bepaal. Of hy dit oor- of onderwaardeer, is nie ter sake nie. Die bedrag wat hy vasgestel het, staan vas.
As die persoon wat die huis aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde bysit by die bedrag wat bepaal is. Die huis sal dan weer aan hom behoort.”
“Iemand kon beloof het om van sy erfgrond, ’n stuk land waarop geplant en geoes kan word, aan die Here af te staan. Die afkoopwaarde daarvan moet dan bepaal word volgens die saad wat gewoonlik daarop gesaai kan word. Vir elke 100 kilogram saad word 50 stukke bereken.
Indien dit eers na die hersteljaar is dat iemand sy land vir die Here gee, moet die dienaar van die Here die bedrag minder maak volgens die aantal jare wat nog oor is tot die volgende hersteljaar.
As die persoon wat die grond aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde byvoeg by die waarde wat die grond op daardie stadium het. Die grond word dan weer sy eiendom.
In die hersteljaar sal die grond egter nie vrykom nie. Dit behoort heeltemal aan die Here soos die banoffers, wat uitsluitlik aan Hom toegewy is. Dit word deel van die Here se eiendom.
[22-23] Indien iemand ’n saailand aan die Here afstaan wat hy aangekoop het en wat nie deel van sy erfgrond was nie, moet die dienaar by die tent die afkoopwaarde daarvan bepaal volgens die jare wat daar nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die persoon betaal daar en dan die bedrag wat bepaal is aan die personeel by die Here se tent oor.
“Die eerste kalf van ’n koei en die eerste lam van ’n bok of ’n skaap wat gebore word, behoort volgens die reëls alreeds aan die Here. ’n Mens kan nie nog verder een van hulle aan die Here beloof nie, want dit is alreeds Syne.
As dit die eerste kleintjie is van ’n dier wat nie op die altaar geslag mag word nie, kan die persoon dit afkoop vir een vyfde meer as die afkoopwaarde. As hy dit nie wil afkoop nie, moet die dienaar by die Here se tent dit teen sy vasgestelde afkoopwaarde verkoop.”
“Enigiets wat iemand heeltemal aan die Here afgestaan het en wat nie langer deur ’n mens gebruik mag word nie, of dit nou ’n mens of ’n dier of ’n lap erfgrond is, kan nooit weer afgekoop of verkoop word nie. Dit behoort net aan die Here en aan Hom alleen.
’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word.
Daar moet nie onderskeid gemaak word tussen goeie en slegte diere wanneer hulle uitgekeer word nie. ’n Dier kan ook nie sommer vir ’n swakker een omgeruil word nie. As iemand tog sal waag om dit te doen, moet hy die dier wat hy eerste uitgekeer het, sowel as die dier waarmee hy dit wou ruil, aan die Here afstaan.”