“Jy moet vir Aäron en sy seuns neem, en die klere, die salf-olie, die bul wat 'n sonde-offer moet wees, die twee skaap-ramme en die mandjie ongesuurde brood.
Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het die volksvergadering laat bymekaarkom by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.
Toe het Moses vir Aäron die rok aangetrek, hy het die skouer-serp om Aäron vasgemaak, die bo-kleed om hom gedraai, die skouer-kleed oorgesit en die belt van die skouer-kleed om sy middellyf vasgemaak.
Hy het van die salf-olie sewe maal teen die altaar gespat en hy het die altaar en al die gereedskap van die altaar en die was-skottel en sy voetstuk gesalf en gewy.
Daarna het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hy het vir hulle die rokke aangetrek en die skouer-serpe omgesit en die kopdoeke om hulle koppe gebind, soos die Here vir Moses gesê het.
Moses het die bul geslag. Hy het die bloed geneem en hy het van die bloed met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig. Hy het toe die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi en so het hy dit gewy en versoening gedoen vir die altaar.
Moses het al die vet geneem wat om die binnegoed was en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet aan die niere en hy het dit op die altaar verbrand.
Hy het die binnegoed en die pote gewas en hy het dit ook verbrand. Hy het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brand-offer, 'n vuur-offer, soos die Here vir Moses gesê het. Dit ruik lekker vir die Here.
Toe het hy die seuns van Aäron laat nader kom en hy het ook aan hulle regter-ore, regter-duime en regter-groottone bloed gesmeer. Daarna het hy die ander bloed teen die altaar gespat, hy het dit oral rondom die altaar gespat.
Hy het die vet geneem, die vetstert en al die vet aan die binnegoed en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet wat aan die niere is en die regter-boud.
Daar was ongesuurde brood in 'n mandjie by die altaar. Moses het een ongesuurde rondebrood uit die mandjie geneem, en ook een rondebrood met olyf-olie en een roosterkoek, en hy het dit by die vet en die regter-boud gesit.
Toe het Moses dit by hulle geneem en hy het dit op die altaar verbrand saam met die brand-offer. Dit was 'n offer om die priesters te wy, dit was 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here.
Moses het die bors van die skaap-ram geneem en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. Die bors van die ram was die deel wat Moses kon kry, soos die Here vir hom gesê het.
Toe het Moses van die salf-olie geneem en van die bloed op die altaar, en hy het dit gespat op Aäron en sy seuns en op hulle klere. So het hy hulle en hulle klere gewy.
Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Julle moet die vleis gaarmaak by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle moet dit daar eet saam met die brood wat in die mandjie is. Die Here het vir my gesê dat Aäron en sy seuns dit moet eet.
Julle mag sewe dae lank nie weggaan van die ingang van die tent nie. Julle moet daar bly totdat die tyd verby is om julle te wy, want om julle te wy, hou sewe dae lank aan.