So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg.
So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit -- elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae.
So sê die HERE van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in die dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? spreek die HERE van die leërskare.
So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die HERE van die leërskare, die tempel, om gebou te word.
Want voor hierdie dae het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere was daar geen loon nie; en vir die wat uit-- en ingaan, was daar weens die teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander losgelaat.
Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.
En soos julle 'n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle 'n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees.
Want so sê die HERE van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die HERE van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie --
So sê die HERE van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda 'n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê.
En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan!
So sê die HERE van die leërskare: In die dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.