Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly hier en staan by jou brand-offer, dan sal ek alleen weggaan. Miskien sal die Here na my toe kom en vir my wys wat ek vir jou moet sê.” Bileam het toe na 'n plek op die berg gegaan waar daar nie bome is nie.
En toe begin Bileam praat. Hy het gesê: “Balak het my laat kom van die land Aram, van die berge in die ooste. Hy het gesê: ‘Kom vervloek die nageslag van Jakob vir my, kom sê dat dit sleg moet gaan met Israel.’
Maar as die Here nie die volk vervloek nie, dan kan ek ook nie vir hulle vervloek nie. Die Here het nie gesê dat dit sleg moet gaan met hulle nie. Kan ék dan sê dat dit sleg moet gaan met hulle? Nee.
Want ek is hier bo-op die rotse en ek sien die volk van hier bo af, ek kyk van die heuwels af na hulle. Hier is 'n volk wat alleen woon, hulle woon nie saam met ander volke nie.
Niemand kan stof tel nie, hulle kan ook nie die nageslag van Jakob tel nie, niemand kan sê hoeveel is een kwart van die Israeliete nie. Ek bid dat ek eerlik sal bly totdat ek sterf, en dat my einde soos hierdie volk se einde sal wees.”
Balak sê toe vir Bileam: “Kom asseblief saam met my na 'n ander plek. Jy sal van daar net party van hulle tente sien, jy sal hulle nie almal sien nie. Jy moet hulle vir my vervloek van daardie plek af.”
Balak het toe vir Bileam na 'n plek bo-op Pisga-berg geneem, hulle kon van daar ver sien. Hy bou toe daar sewe altare en hy offer op elke altaar 'n bul en 'n skaap-ram.
Toe Bileam terugkom by Balak, het Balak nog by sy brand-offer gestaan, hy en die amptenare van Moab. Balak het vir Bileam gevra: “Wat het die Here gesê?”
God is nie 'n mens nie, Hy lieg nie, Hy is nie soos 'n mens nie, Hy verander nie wat Hy besluit het nie. Wanneer Hy iets belowe het, dan doen Hy dit. Wanneer hy gepraat het, dan laat Hy dit gebeur.
Hy het nie besluit dat dit sleg sal gaan met die Israeliete nie, en Hy het ook nie besluit dat hulle sal swaarkry nie. Hulle God die Here is by hulle, hulle juig oor Hom, hulle Koning.
Hier is 'n volk wat opstaan soos 'n leeu, wat gereedstaan soos 'n leeu, wat nie gaan lê voordat hy iets gevang en geëet het nie, hy gaan lê nie voordat hy die bloed gedrink het van die diere wat hy gevang het nie.”
Balak het toe vir Bileam gesê: “Kom asseblief, ek neem jou na 'n ander plek. Miskien sal God tevrede wees as jy hulle vir my vervloek” van daardie plek af.