Nadab en Abihu het in die Sinai-woestyn gesterf toe hulle verkeerde vuur op die altaar neergesit het. Die Here het hulle laat sterf. Hulle het nie seuns gehad nie, en toe was net Eleasar en Itamar priesters saam met hulle pa Aäron.
“Ek het self die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het nie die oudste seuns van die Israeliete geneem nie, Ek het die Leviete geneem in hulle plek. Die Leviete behoort aan My.
Al die oudste seuns en al die eerste kleintjies van die mak diere is Myne. Dit is so van daardie dag af toe Ek die oudste seuns in Egipte laat sterf het. Ek het toe elke seun en elke dier wat eerste gebore is, aan My gewy, hulle is Myne, Ek is die Here.”
“Jy moet die name van die Leviete en die name van hulle voorvaders en families in 'n boek skryf. Jy moet die name opskryf van elke man en seun wat 'n maand of ouer is.”
Die nageslag van Gerson moes werk by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle moes sorg vir: die tempel-tent, die tent en sy seil, die gordyn voor die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,
die gordyne rondom die oop stuk grond, die gordyn voor die ingang van die oop stuk grond wat rondom die tempel-tent en die altaar is, en die toue. Hulle moes alles doen wat daar nodig was.
Die mans en seuns wat 'n maand of ouer was en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 8 600. Hulle moes al die werk by die tempel-tent doen.
Moses en Aäron en sy seuns moes hulle tente opslaan voor die tempel-tent, oos van die tempel-tent. Net Aäron en sy seuns moes vir die Israeliete die werk doen in die tempel-tent. As iemand anders hierdie priester-werk gedoen het, dan moes hulle hom doodmaak.
Die Here het vir Moses en Aäron gesê hulle moet die name en families van die Leviete in 'n boek skryf. Die mans en ook die seuns wat 'n maand of ouer is, was almal saam 22 000.
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al die oudste seuns van die Israeliete tel en jy moet hulle name in 'n boek skryf, almal wat 'n maand of ouer is.
Maar jy moet die Leviete vir My neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die diere van die Leviete neem in die plek van al die eerste lammers en kalwers van die Israeliete.”
“Jy moet die Leviete neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die Leviete se diere neem in die plek van die Israeliete se diere. Die Leviete behoort aan My, Ek is die Here.