Wanneer die kamp opgebreek word, moet Aäron en sy seuns ingaan en die voorhangsel wat as afskorting dien, afhaal en die ark met die Getuienis daarmee bedek.
Oor die tafel vir die vertoonbrode moet hulle ook 'n pers doek gooi. Daarop moet hulle die skottels, die bakke, die komme en die bekers vir die •drankoffers neersit. Die brood wat deurentyd op die tafel is, moet ook daar wees.
Hulle moet 'n pers doek vat en dit gooi oor die menora wat lig moet verskaf, saam met sy lampe, die snuiters, die bakkies en al die oliehouers waarmee hulle by die menora take verrig.
Hulle moet al die gereedskap neem waarmee hulle in die heiligdom take verrig, dit op 'n pers doek sit, met 'n kleed van sagte leer toemaak en op die draagbaar neerlê.
Hulle moet al die gereedskap waarmee hulle by die altaar take verrig, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppies en offerbakke – al die gereedskap vir die altaar. Dan moet hulle 'n sagte leerbedekking daaroor gooi. Daarna moet hulle die draaghoute insteek.
Aäron en sy seuns moet die heiligdom en al die heilige voorwerpe toemaak wanneer die kamp verskuif. Eers daarna kan die nageslag van Kehat kom om dit te dra. Hulle mag nie aan iets heiligs raak nie, anders sterf hulle. Dit is dan die voorwerpe in die Tent van Ontmoeting wat die nageslag van Kehat moet dra.
“Die olie vir die lig, die geurige reukwerk, die gereelde •graanoffer en die salfolie staan onder die beheer van Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy hou ook toesig oor die hele tabernakel en alles wat daarin is, oor sowel die heiligdom as sy gereedskap.”
Dit is wat julle vir hulle moet doen, sodat hulle kan leef en nie sterf wanneer hulle die besonder heilige voorwerpe nader nie: Aäron en sy seuns moet in die tabernakel ingaan en hulle aanstel, elkeen oor sy taak en by sy drawerk.
Hulle moet die tabernakel se tentdoeke en die Tent van Ontmoeting dra, die dekkleed en die dekkleed van sagte leer wat bo-oor kom, die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting,
die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, en die afskorting by die ingang van die poort na die voorhof, asook die toue daarvan en al die voorwerpe wat deel uitmaak van hulle taak; ja, alles wat daarmee gedoen moet word, is hulle taak.
Volgens die bevele van Aäron en sy seuns moet elke taak van die nageslag van Gerson uitgevoer word. Dit geld vir al hulle drawerk en al hulle take. Julle moet vir hulle by die naam al hulle drawerk aanwys.
Dit is die taak van die familiegroepe van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting. Hulle verpligtinge staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.”
Die drawerk wat hulle verplig is om te doen, al hulle take by die Tent van Ontmoeting, sluit die volgende in: die houtraamwerk van die tabernakel, sy dwarshoute, pilare en voetstukke,
die pilare rondom die voorhof, die voetstukke, penne, toue en al die bypassende gereedskap, alles wat deel uitmaak van hulle taak. Julle moet vir hulle by die naam die voorwerpe wat hulle verplig is om te dra, aanwys.
Dit is die taak van die familiegroepe uit die nageslag van Merari. Al hulle take by die Tent van Ontmoeting staan onder die beheer van Itamar, seun van die priester Aäron.”
Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe wat van Kehat afstam, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here deur die diens van Moses.
Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Gerson, elkeen wat in die Tent van Ontmoeting 'n taak verrig het, wat Moses en Aäron in opdrag van die Here ingeskryf het.
Dit was dié wat ingeskryf is van die familiegroepe van die nageslag van Merari. Moses en Aäron het hulle ingeskryf op bevel van die Here by monde van Moses.
Volgens die bevel van die Here by monde van Moses, is hulle oor hulle taak en drawerk opdragte gegee, elkeen wat Moses ingeskryf het soos die Here hom beveel het.