Wanneer die mense in die kamp moet weggaan, dan moet Aäron en sy seuns kom en hulle moet die gordyn voor die binneste kamer afhaal. Hulle moet die kis waarin die tien gebooie is, daarmee toemaak.
Dan moet hulle 'n seil van sagte vel bo-oor die kis sit, en daarna 'n lap van blou wol-materiaal. Daarna moet hulle die dra-houte in die ringe van die kis sit.
Hulle moet 'n blou lap oor die tafel gooi waarop die offer-brood is, en dan moet hulle die skottels, die panne, die bakke en die kanne daarop sit, die kanne waarmee hulle die drank-offer uitgooi. Die offer-brood moet ook daarby wees.
Daarna moet hulle 'n blou lap neem en die lampstaander toemaak, saam met die lampe en die dekseltjies wat die lampe doodmaak en die olie-kanne wat daarby moet wees.
Daarna moet hulle al die gereedskap neem wat hulle in die tempel-tent gebruik en hulle moet dit in 'n blou lap sit en dit toemaak met 'n vel-seil en dit op dra-pale sit.
Dan moet hulle al die gereedskap wat hulle by die altaar gebruik, daarop sit: die emmers, die vurke, die grawe en die bakke, al die gereedskap van die altaar, en hulle moet dit toemaak met 'n vel-seil. Dan moet hulle die altaar se dra-houte in die ringe sit.
Wanneer die mense moet weggaan uit die kamp, dan moet Aäron en sy seuns eers die tempel-tent en al sy gereedskap toemaak. Wanneer hulle dit klaar gedoen het, dan kan die Kehat-familie dit kom dra. Hulle mag nie aan die gewyde dinge raak nie. As hulle dit doen, dan sal hulle sterf. Die Kehat-familie se werk is om die tent te dra waar die Here aan die Israeliete verskyn.
“Eleasar seun van die priester Aäron, moet sorg dat daar olyf-olie vir die lampe is, en ook wierook, koring-offers vir elke dag, en salf-olie. Hy moet kyk dat almal reg werk in die tempel-tent en dat hulle die gereedskap reg gebruik.”
[18-20] “Aäron en sy seuns moet kom en hulle moet vir elkeen van die Kehat-familie sê wat hy moet doen en wat hy moet dra. Die mense van die Kehat-familie moenie kyk na die hoog-gewyde dinge nie, hulle moet glad nie kyk nie. Want as een van hulle dit doen, dan sal hy sterf, en julle moenie dat die Kehat-familie sterf en ophou lewe tussen die Leviete nie. Julle moet dit vir hulle sê sodat hulle kan aanhou lewe.”
Hulle moet die stukke materiaal van die tempel-tent dra, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en die seil en die vel-seil wat daaroor is, en die gordyn by die ingang van die tent,
en die gordyne om die oop stuk grond, en die gordyn by die ingang van die poort van die oop stuk grond rondom die tempel-tent en die altaar, en die toue en al die ander goed wat daarby moet wees. Die Gerson-familie moet alles doen wat nodig is by die altaar.
Dit is die werk van die Gerson-familie by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Itamar seun van die priester Aäron moet kyk dat hulle die werk doen.”
Hierdie is die dinge wat die Merari-familie moet dra en wat hulle alles moet doen: Hulle moet die rame van die tempel-tent dra, die dwarspale en die pale en die voetstukke van die tempel-tent,
die pale van die oop stuk grond rondom die tempel-tent, en die voetstukke en die penne en toue, en alles wat daarby moet wees. Jy moet sê watter goed elkeen moet dra.
Dit is die werk van die Merari-familie met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Itamar seun van die priester Aäron moet kyk dat hulle die werk doen.”
Moses en Aäron en die leiers van die volksvergadering het die Kehat-familie getel en hulle het opgeskryf van wie se nageslag elkeen is en aan watter familie hy behoort.
Dit is die hele nageslag van Kehat wat gewerk het met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Die Here het vir Moses gesê hy en Aäron en die leiers moet die Kehat-familie tel, en hulle het dit gedoen.
Dit is die hele nageslag van Gerson wat gewerk het by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Die Here het vir Moses gesê hy en Aäron en die leiers moet die Gerson-familie tel, en hulle het dit gedoen.
Dit is die hele nageslag van Merari wat gewerk het by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Die Here het vir Moses gesê hy en Aäron en die leiers moet die Merari-familie tel, en hulle het dit gedoen.
Die Here het vir Moses gesê hy en die ander leiers moet die Leviete tel en hulle moet vir elke familie sê watter werk die familie moet doen met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het en wat elkeen moet dra.