Die paasfees was net om die draai. Jesus het besef die tyd het gekom om terug te gaan na sy Vader toe. Dit was nie vir Hom maklik nie. Hy het baie geheg geraak aan sy getroue volgelinge hier op aarde. Hy was baie lief vir hulle.
“Petrus, dit mag nou vir jou snaaks lyk dat Ek so iets wil doen,” sê Jesus, “maar gee ’n bietjie kans; al hierdie dinge sal wel later vir jou sin begin maak.”
“Moet asseblief nie aan my voete raak nie,” vra Petrus, “nie nou nie en ook nie later nie.” “Wel,” antwoord Jesus hom, “as Ek nie jou voete was nie, beteken dit dat jy nie een van ons is nie. Dan gaan jy ook nie kry wat Ek vir jou kan gee nie.”
Jesus sê toe: “Jy het mos vanoggend gebad. Dit is nou eers genoeg om net jou voete te was; dan is jy weer heeltemal skoon. Maar nie almal van julle sal skoon word nie, al was Ek almal se voete.”
Jesus het voortgegaan en almal se voete gewas. Daarna gaan sit Hy weer op sy plek. “Maak dit sin wat Ek vir julle gedoen het? Wel, laat Ek dit so vir julle verduidelik. Hoe praat julle oor My?
Dit kan nie anders nie, want die werker skryf mos nie vir die baas voor wat om te doen nie. As jy iemand stuur, vertel die een wat gestuur word nie vir jou wat jy wil hê nie. Dit werk mos andersom!
Ek praat nie van julle almal nie. Ek ken julle goed, want Ek het julle as my vriende gekies. In die Skrif staan: ‘Die een wat saam met My geëet het, het my seer geskop.’ Julle sal dit sien waar word.
Ek sê dit nou al vir julle. Kyk maar net. Wanneer dit gebeur, sal julle nie onkant gevang word nie, want julle sal weet dat dit moet gebeur. Wanneer dit gebeur, sal julle net al hoe meer oortuig raak wie Ek regtig is.
“Dit moet julle altyd besef: sê nou Ek stuur iemand en mense ontvang hom met oop arms, is dit eintlik vir My wat hulle so ontvang. En as hulle My so met oop arms ontvang, ontvang hulle eintlik so vir God wat My gestuur het.”
Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.”
[23-24] Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.”
Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot.
Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie.
My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min. Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie. Julle sal nie kan kom waar Ek gaan nie. Ek het dit mos al vir die Jode gesê.
Nou sê Ek dit vir julle ook. “Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van julle. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê.
Petrus was nie tevrede nie. “Here, hoekom kan ek nie nou al saamkom nie?” wou hy weet. “U weet U is vir my alles. Selfs al moet ek my lewe vir U gee, sal ek dit doen.”
“Wat, Petrus? Sê jy jy is bereid om jou lewe vir My te gee? Ek het vir jou ’n verrassing. Voor die haan môreoggend vroeg kraai, sal jy al drie maal vurig ontken het dat jy iets van My weet, wat nog te sê dat jy my vriend is.”