Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.
Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek •f deur 'n openbaring, •f deur kennis, •f deur profesie, •f deur lering nie?
Net soos met lewelose dinge wat 'n klank gee, 'n fluit of 'n siter, as hulle nie 'n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?
Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal 'n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.
Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.
In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.
Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.
As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?
Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging -- laat alles tot stigting geskied.