Julle moet altyd lief wees vir ander mense, soos Christus lief was vir ons. Hy het gesterf sodat ons kan lewe. Hy was 'n offer vir God, 'n offer waarvan God gehou het.
Julle moenie onsedelik lewe en ander slegte dinge doen nie. Julle moenie altyd meer en meer goed vir julleself wil hê nie. Julle behoort aan God, en almal moet weet dat julle nooit hierdie dinge doen nie.
Julle moenie lelike en dom dinge sê en slegte dinge oor ander mense sê nie. Mense wat aan Christus behoort, doen nie dit nie. Wanneer julle praat, dan moet dit net wees om vir God dankie te sê.
Julle moet dit weet: Mense wat onsedelik lewe of wat so lewe dat hulle onrein is, sal nie die ware lewe kry daar waar Christus en God Koning is nie, ook nie die mense wat altyd meer goed wil hê nie, want dan is hulle goed hulle afgode.
Daar is mense wat vir julle dinge wil leer wat nie waar is nie, hulle wil hê julle moet verkeerd doen. Julle moenie doen wat hulle sê nie, want mense wat hierdie slegte dinge doen, is nie gehoorsaam aan God nie en daarom sal God hulle straf.
Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe.
Julle moenie die dinge doen wat die mense doen wat in die donker lewe nie. Hulle doen dinge wat nie goed is nie. Julle moet vir hulle almal sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is.
Ja, 'n mens kan sien hoe iets is wanneer die lig daarop skyn. Daarom sing ons: Jy wat slaap, jy moet wakker word, jy moet weer begin lewe. Dan sal Christus 'n lig wees vir jou.
Julle moenie wyn drink en dronk word nie, want dan doen julle verkeerde en slegte dinge. Nee, julle moet altyd doen wat die Heilige Gees wil hê julle moet doen.
Julle moet sing wanneer julle bymekaar is, julle moet psalms en gesange en ander liedere sing. Julle moet sing en julle moet die Here prys met julle hele hart.
Christus het gesterf sodat die kerk sy bruid kan wees, 'n bruid wat baie mooi is. Christus wou hê die gelowiges moet niks sonde doen nie en hulle moet heeltemal reg lewe.
Die mans moet so lief wees vir hulle vroue, so lief soos Christus vir die kerk is. Ja, die mans moet lief wees vir hulle vroue, so lief soos hulle vir hulleself is. As mans lief is vir hulle vroue, dan is hulle ook lief vir hulleself.