Wanneer jy van die vleis eet, moet jy brood wat sonder suurdeeg gebak is, daarmee saam eet. Sewe dae lank moet jy sulke ongesuurde brood eet, want dit moet jou laat terugdink aan die swaarkrydae in Egipte, asook die haas waarmee jy daar weg is. Eet hierdie bitter brood sodat dit jou aan die bitter tyd in Egipte kan herinner.
Sewe dae lank moet daar nêrens suurdeeg by julle wees nie. Van al die vleis wat jy vir die eerste aand van die fees slag, mag daar niks tot die volgende môre oorbly nie.
Jy moet die vleis gaarmaak en op die plek eet wat die Here nog in die Beloofde Land sal kies. Teen die volgende oggend se kant kan julle maar weer huis toe gaan.
Ses dae lank moet jy dan ongesuurde brood eet en op die sewende moet jy vrolik en feestelik saamkom om die Here jou God te eer. Op hierdie dag mag niemand werk nie.”
Daar moet julle vrolik en bly wees in die teenwoordigheid van die Here. Jy en jou kinders, jou werkers, die Leviete van jou dorp en die mense van ander volke wat by jou bly. Ook die weeskind en weduwee moet saamkom en vrolik wees.
Sewe dae lank moet jy by die plek wat die Here nog sal kies, bymekaarkom en tot die Here se eer feesvier. Wees vrolik, want die Here het jou arbeid en jou oes geseën.
“Drie maal per jaar moet alle mans na die plek toe gaan wat die Here nog sal kies. Hulle moet vir die paasfees, die fees van die weke en die huttefees daar byeenkom en die nabyheid van die Here ervaar.
Hulle moet nooit partydig of onredelik wees nie. Hulle moet ook nooit omkoopgeskenke aanvaar nie. Sulke geskenke maak selfs die slimstes en die eerlikstes blind vir die waarheid.