Wanneer jy oor die Jordaan trek en in die land ingaan wat die Here jou God vir jou gee as jou eie land, moet jy daar ’n klomp klippe neersit as ’n gedenkteken. Jy moet die klippe wit verf.
Skryf dan alles op hierdie klippe neer wat die Here julle beveel het, wat sy ooreenkoms met julle is. Ek herhaal: binnekort gaan julle oor die rivier die land in wat die Here julle God vir julle gee. Dit is ’n land waarin daar oorgenoeg is van alles. Dis net soos die Here julle oupagrootjies en oumagrootjies belowe het.
Bring daar offers vir die Here sodat Hy vir jou vrede kan gee. Hou daar ’n groot fees en eet en wees bly omdat die Here jou God saam met jou is. Hy is tussen julle.
Toe het Moses en al die mense wat in die huis van die Here werk, die kleinkinders van Levi, vir Israel gesê: “Israel, wees stil. Luister baie mooi! Vandag het julle die volk van die Here julle God geword.
“Wanneer julle oor die Jordaan gaan, moet party stamme op die Gerisimberg gaan staan. Simeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin moet aan daardie kant op die Gerisimberg gaan staan. Hulle moet vertel hoe die Here die volk voorspoedig gaan maak as hulle doen wat Hy hulle beveel.
Die stamme van Ruben en Gad en Aser en Sebulon en Dan en Naftali moet op die Ebalberg aan hierdie kant gaan staan. Hulle moet hardop sê hoe die Here die mense gaan straf wat nie doen wat Hy sê nie.
‘Dit sal sleg gaan met elkeen wat vir hom ’n beeld van ’n afgod maak, dit êrens neersit waar ander dit nie kan sien nie, en dan voor daardie beeld buig en dit aanbid. Afgode is mensewerk. Hulle is walglik vir die Here. Hy kan so iets nie verdra nie.’ “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’
“Dit sal sleg gaan met elkeen wat van sy buurman grond steel deur die grensdrade stilletjies te verskuif. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’
“Dit sal sleg gaan met enigiemand wat bereid is om ’n ander mens dood te maak omdat hy daarvoor betaal word. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’
“Dit sal sleg gaan met elkeen wat nie alles doen wat die Here gesê het julle moet doen nie, en wat nie gehoorsaam is aan wat Hy beveel nie. “Dan moet die volk antwoord: ‘Ja, dit is so!’”