Ek sê dit is belangrik dat julle vir al die mense moet bid. Sê vir God wat hulle nodig het, vra vir God om hulle te help en sê ook vir God dankie vir hulle.
Julle moet bid vir konings en vir almal wat oor julle regeer. Julle moet dit doen sodat ons stil en rustig kan lewe terwyl ons vir God dien en lewe soos Hy wil hê.
Daarom het Christus Jesus my gekies en aangestel om die goeie boodskap te bring vir die mense wat nie Jode is nie, en om 'n apostel te wees. Ek lieg nie as ek dit sê nie, ek praat die waarheid. Ek moet ook vir húlle die waarheid leer en ek moet vir hulle leer wat dit beteken om in Christus te glo.
Ek wil hê die mans wat hulleself aan die Here wy, moet tot die Here bid. Hulle moet hulle hande ophou na die hemel en hulle moet bid op elke plek waar hulle bymekaarkom. Hulle moenie vir mekaar kwaad word en stry nie.
Ek wil ook hê dat vroue mooi moet wees omdat hulle die regte klere dra, klere wat wys dat hulle nie slegte vroue is nie en dat hulle mooi maniere het. Hulle moenie hulle hare so mooi vleg dat almal altyd daarna wil kyk nie, en hulle moenie goue juwele of pêrels of baie duur klere dra nie.
Maar die Here sal vroue beskerm wanneer hulle kinders kry, vroue wat aanhou glo en lief is vir mense, vroue wat hulleself aan die Here wy en wat nederig is.