Na Abimelek se dood het Tola seun van Puwwa, die kleinseun van Dodo, tot Israel se redding gekom. Hy was ’n lid van die stam Issaskar en het in die dorp Samir in die berge van Efraim gebly.
Jaïr het 30 seuns gehad wat elkeen op ’n jong donkie rondgery het. Hulle het ook 30 dorpe in die gebied van Gilead gehad wat steeds bekend staan as die tentdorpe van Jaïr.
Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Hulle het die Baäls en die Astartes asook die gode van Sidon en dié van die Arameërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne aanbid. Hulle het die rug vir die Here gedraai en Hom glad nie meer gedien nie.
Die Ammoniete het selfs die Jordaanrivier oorgesteek en teen die stamme van Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid.
Uiteindelik het die Israeliete tot die Here gebid. Hulle het vir Hom gesê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die rug vir U, ons God, gedraai en die Baäls aanbid.”
Op daardie tydstip het die Ammonitiese weermag gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het in Gilead kamp opgeslaan. Die Israeliete het ook vir oorlog gereedgemaak en hulle kamp by Mispa opgeslaan.
Die leiers van Gilead het vir mekaar gesê: “Wie gaan ons soldate in die oorlog teen die Ammoniete lei? Hy moet in elk geval dan die leier van al Gilead se mense word.”