In die tyd toe daar nog nie ’n koning in Israel was nie, het die stam van Dan na grond gesoek waar hulle kon gaan bly. Tot in daardie stadium het hulle nog nie ’n eie gebied gehad waar hulle kon bly nie.
Die mense van Dan het vyf dapper mans uit die dorpe Sora en Estaol as hulle verteenwoordigers gestuur om die land te gaan verken. Hulle het toe by Miga se huis in die berge van Efraim aangekom en daar oornag.
Die vyf mans is toe daar weg en het later by Lajis aangekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners ’n sorgvrye lewenswyse gehad het, soos die inwoners van Sidon gewoond was om te doen. Hulle was vredeliewende, rustige mense wat nie gedurig met ander volke moeilikheid gesoek het nie. Hulle was ook welvarend. Hulle het ver van die mense van Sidon af gebly en hulle het ook nie met die ander volke in die omgewing in aanraking gekom nie.
Hulle antwoord was: “Waarvoor wag julle nog? Kom ons val hulle aan. Ons het die land gesien, dis wonderlik. Ons moet dit dadelik gaan inneem. Moenie nog tyd mors nie!
Julle sal sien as julle daar aankom, hierdie mense is houtgerus. Dis ’n wonderlike gebied. Daar is alles wat ’n mens se hart kan begeer, en die Here gee dit vir julle.”
Die vyf mans wat vroeër die gebied van Lajis verken het, het vir die ander gesê: “Weet julle dat daar ’n afgodsbeeld en huisgode en nog ’n paar ander beeldjies in hierdie huis is? Ons dink dit is glashelder wat ons behoort te doen.”
Hulle sê toe vir hom: “Bly liewer stil en kom saam met ons. Jy kan ons leermeester en priester wees. Dit is tog beter om die priester van ’n hele stam van Israel te wees as net vir een man.”
“Julle het my gode gevat wat ek gemaak het en boonop my priester ook afgerokkel; ek het net mooi niks oor nie. Dan vra julle nog waarom ek so te kere gaan!”
Die mense van Dan het vir hom gesê: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai maak nie. Netnou is hier ’n klompie mense wat besluit om hulle humeur te verloor en dan verloor jy en jou mense dalk julle lewe!”
Die mense van Dan het omgedraai en verder getrek. Miga het besef dat hulle baie sterker was as die groep by hom; daarom het hy omgedraai en teruggegaan huis toe.
Die mense van Dan is toe met die beelde en die priester na die niksvermoedende mense van Lajis toe. Daar aangekom, het hulle die mense doodgemaak en die stad tot op die grond afgebrand.
Niemand kon hulle red nie, aangesien hulle baie ver van Sidon af was en hulle in elk geval nie kontak met die ander volke in die omgewing gehad het nie. Lajis was in die vallei van Bet-Regob geleë. Hierna het die mense van Dan die stad herbou en self daarin gaan woon.
Hulle het die afgodsbeeld daar laat staan, en Gersom se seun Jonatan die kleinseun van Moses, en sy seuns het as hulle priesters opgetree totdat die mense in ballingskap weggevoer is.